Clifford the Big Red Dog

Clifford the Big Red Dog

CLIFFORD THE BIG RED DOG is presies wat die titel sê. Dis een van daai haai foeitog-films, gedeeltelik animasie wat beteken die rooi hond is geanimeerd. Wie kan ‘n paar pleitende honde-ogies met “koop my” opgeskryf weerstaan? Wanneer Jack Whitehall, een van die aantreklikste en mees sjarmante Britse akteurs en komediante, se niggie ‘n rooi hond by die DBV uitsoek, waarsku die eienaar dat sy hom moet liefhê as sy werklik waarde vir haar geld wil kry. Maar sy moet hom GROOT liefhê…

Whitehall koop die rooi hondjie teen sy beterwete, en sy niggie se liefde raak so oorweldigend, dat die towerbrak, ‘n soort Brakanjan sonder die hoed, in ‘n reuse rooi hond groei en verander met die oorweldigende kinderliefde. Dit word so groot, hy kan skaars by die deur inpas! En kan hy nog groter word? Natuurlik moet hy aanvanklik weggesteek word, maar hoe steek ‘n mens so ‘n groot gedierte weg? Dis die vet brakkerasie-pret van CLIFFORD THE BIG RED DOG vir kinders.

Enigiemand wat van brakke hou, veral die grotes, sal “is hy nie te pragtig nie!” reaksies hê, en alhoewel die storie so voorspelbaar soos jou aandete is, is dit tog prettig om te sien hoe die draaiboekskrywers sin uit hierdie reuse-hond maak. En die rooi-hond-animasie is oortuigend en oulik. Absoluut vir die kleinspan.