CRAZY, NOT INSANE

CRAZY, NOT INSANE

CRAZY, NOT INSANE probeer ‘n onderskeid maak tussen stapelgek wees en kranksinnigheid. Die welsprekende sielkundige, dr. Dorothy Lewis, kyk soms met humor, en op ander tye met verbystering, na hoekom sommige mense moor. Sy beweer dat geen mens boos gebore word nie, maar so grootgemaak word. Sy doen voor ons oë onderhoude met tot 21 reeksmoordenaars en vra: hoekom moor hierdie mense? “Hulle kan hulself nie help nie,” is haar gevolgtrekking. Daar is iewers ‘n skroef los in hulle brein wat hulle verslaaf maak aan moor, anders as ander mense wat die kluts vir ‘n oomblik kwytraak, en iemand op die ingewing van die oomblik doodmaak. Sy doen selfs ‘n onderhoud met iemand wat moordenaars teregstel.

CRAZY, NOT INSANE op Showmax sal jou boei van begin tot einde. Dis veral die feit dat die sielkundige haarself nooit te ernstig opneem nie wat so verrassend is, en natuurlik wat die reeksmoordenaars alles kwytraak. Sommige praat in verskillende stemme, en dis die doktor se punt. Hulle kan hulleself nie help nie, en die doodstraf is nie die oplossing nie. Dit laat haar natuurlik in die warm water beland. Jy sal dikwels nie glo wat jy sien nie.