Cruella

Cruella

As jy vir CRUELLA gaan kuier en ‘n tipiese Disney-fliek soos 101 Dalmatians verwag, sal jy jou koud skrik. Die fliek wys op uitspattige, kleurvolle, oordadige en kamp wyse waar Cruella aan haar haat vir Dalmasiër honde vandaan kom. Emma Thompson is haar formidabele vyand saam met ander oordrewe akteurs wat natuurlik aan karikature grens. Dis die aard van die rolprent.

Pas op: Dis asof Walt Disney nou The Rocky Horror Picture Show gemaak het. Daar is nie ‘n stil oomblik nie. Alles is in die oortreffende trap, en Cruella en haar opponent takel jou senuwees, tart jou uithouvermoë en toets jou geduld. Maar as jy van buitensporige en ontploffende films vol maniërismes en aansitterigheid hou, mag jy CRUELLA intens geniet. Omdat dit te lank is en sommige tonele uit die skerm bars, kry dit 7 uit 10, maar as jy lanklaas buitensporige oordaad op die teaterskerm beleef het, en Emma Stone lewer terloops ‘n kragtoer, mag jy in die paadjies dans. CRUELLA is soms grotesk, soms vergesog vermaaklik, soms verregaande domastrant, maar ook buitensporig vermaaklik. Kinders tussen 7 en 9 moet deur ‘n volwassene vergesel word, maar dis nie noodwendig vir kinders nie.