Cypher (Reeks)

Cypher (Reeks)

Die doel van hierdie rubriek is nie net om te oe en te aa nie, dis ook ‘n gids waarvoor om versigtig te wees. Soms is ‘n resensent koppig. In my geval volhard ek in die hoop dat dit gaan verbeter, maar teen die einde voel dit soos uitskryfwerk. Ek moes altyd met seer boude uitskryf: “Ek sal leer om beter wiskunde te doen.”  Die gevolg. My wiskunde het verswak en my boude was gewoond aan onregverdige loesings. Jy kan nie wiskunde in ‘n kind slaan nie.

In die geval van die reeks, CYPHER, raak dit later ongeloofwaardig  en banaal, maar hierdie laaitie het gekyk, want dis resensente-uitskryfwerk. Die held (Brian Krause) lewer ‘n eentonige vertolking en het destyds in die jare her tienerhelde gespeel, en die man wat ‘n kode moet ontsyfer (Martin Dingle Wall) is nie die soort wat jy in jou huis sou toelaat sonder ‘n paniekknoppie om jou nek nie. Hy lyk vuil, beplooid en opgefrommel. Van die ander akteurs lewer ongeloofwaardige, geforseerde meganiese spel, en die uiteinde is voorspelbaar, reg vir ‘n opvolgreeks.

Dit gaan oor ‘n FBI-agent (Martin Dingle Wall)  wat terug gelok word FBI toe. Hoe dikwels het jy al daardie storie  gesien. (gaap-gaap). Hy moet ‘n lys ontsyfer met 21 name op van mense wat tereggestel gaan word. Is syne ook daar? Laat ons nie verder tydmors nie. CYPHER is lamlendig. My sarkasme daaroor het opgedroog.