Hier is nou vir jou ‘n venynige vraatkyk-reeks. Dis een van daardie reekse waar jy nie eers na die slottitels kyk nie. Jy’s te haastig, en woerts sommer na die volgende episode. Dis ‘n Duitse reeks (Oorspronlike titel: LIEBES KIND), wat in Engels oorgeklank is vir diegene wat traag is om subtitels te lees.
Ek gee so min as moontlik van die storie weg, anders word verrassings verklap en bederf dit jou eie speurvernuf. Dus, geen spoiler alerts nie. Genoeg om te sê: ‘n vrou storm deur die bosse voor ‘n motor in en word getref. Die dogtertjie by haar, wat saam met haar hardloop, kyk verstom toe. Nadat die polisie en ambulans opgedaag het, vind hulle uit dat die twee gevange gehou is. Maar deur wie? En hoekom? En… wat van die seuntjie wat agtergebly het?
Veral Naila Schuberth as die dogtertjie lewer ‘n uitstaande vertolking. Die Duitsers speel so intens en oortuigend toneel, selfs koorsig, dat die hare waai. Maar sodra jy dink jy weet wat die oplossing is, en dat jy die storie onder die knie het, bars daar ‘n handgranaat vol nuwe verrassing, wat die storie in ‘n ander rigting laat swenk. Mens kan letterlik nie wag om tuis te kom en verder te kyk nie.