Devilsdorp (Minireeks)

Devilsdorp (Minireeks)

Ek moet waarsku: DEVILSDORP is so brutaal ontstellend, dat ek dit nie in een sitting kon kyk nie. Mens storm buite toe en asem die koue lug gulsig in om weer tot jou sinne te kom. Was dit ‘n werk van fiksie, sou jy gemor het: “Te vergesog”, maar in hierdie deeglik-nagevorsde en intense dokumentêr is dit die waarheid wat jou katswink slaan.

Jy onthou dalk die hofsaak waarin ‘n groep mense op Krugersdorp aangekla is van grusame moorde op onskuldiges. Toe die moordenaars in die hof verskyn, het sommiges nonchalant probeer om hulle skouerophalend daaruit te wurm.

Daar is geen verteller nie. Die joernaliste wat die saak ondersoek het, en prokureurs en familielede van slagoffers praat openhartig oor wat gebeur het. Maar dis die balans tussen die gebeure en die gevolge daarvan, wat jou platslaan. Byvoorbeeld: een van die joernaliste het ‘n verhouding met die veroordeelde moordenaar, Le Roux Steyn, in die tronk aangeknoop. Die feit dat die vervaardigers die gebeure so saaklik en insiggewend hanteer, maak dit ‘n uitmuntende dokumentêr.

DEVILSDORP se tien uit tien mag skok, want die uitwerking van die reeks, al ken mense die gegewe, is asof jy aan ‘n lewendige kragdraad vat. Maar as jy die moed het om jou in die binnekring van absolute boosheid te begewe, mag DEVILSDORP ‘n ervaring wees wat vir weke lank by jou sal spook. Maar pas op!