Doctor Strange in the Multiverse of Madness

Doctor Strange in the Multiverse of Madness

DOCTOR STRANGE IN THE MULTIVERSE OF MADNESS gaan oor die Marvel-strokieskarakter, Dr. Strange, wat ‘n weeskind (die uitstekende Xochitl Gomez) moet red. ‘n Monster wil haar na ‘n alternatiewe univers ontvoer. Maar daar is ook ‘n nare heks, Wanda, wat agter haar aan is. Saam met bose magte uit die buitenste, of in hierdie geval universele duisternis, word Strange en die weeskind van die een werklikheid na ‘n ander gestuur, alles natuurlik deel van die Marvel-heelal.

Tegnies is dit onverbeterlik. Die teater skud, kleure en vlamme en vuurstrale en vlamwiele tol in die rondte. ‘n Mens is verstom oor wat jou oë alles sien, en wat rekenaartowenaars, veral in naproduksie, kan regkry. Maar dis ongelukkig al.

Die hele rolprent is net een groot atoombomontploffing van spesiale effekte. Jou tieners of jonges of Marvel-aanhangers sal gek wees hieroor. Dit is tegnies verbluffend goed. Maar daar is ook diegene, waarvan ek een is, wat net verstom sit en staar het na die een spesiale effek op die ander. Dit word later vervelig en so herhalend, jy raak suf.  Besluit maar self of jy hierdie breinkougom wil sien.