DODGEBALL

Ag, skiep al die pretensieuse flieks en gee vir my iets wat my gaan laat lag, sê jy. Kies DODGEBALL. Nou kyk, elke keer as ek in DODGE-BALL gelag het, het ek eers gekyk wie sien my. Die humor is aards, die karakters stereotiep, die konsep oor-eenvoudig en die kwinkslae onder die belt en vermetel. Maar ai, mens lag ten koste van jouself. En al is die humor platvloers en amper dom-vermetel, is DODGEBALL in die kol as jy jonk van gees is en jy wil sommer net vanaand laat waai!

Dit gaan oor twee gim-instrukteurs, Ben Stiller en Vince Vaughn wat meeding om ‘n gimnasium. Hulle besluit om dodgeball te speel en die wenners kry die gim. In die spel kom 6 opponente teen mekaar te staan. Die een span gooi die ander met ‘n bal. As hy sy opponent raakgooi EN die bal raak die grond, is die ander ou uit. Die paloekas wat eerste almal uit is, verloor.

Wat die fliek so snaaks maak? Die vermetele humor, die moedswillige karakters, die platvloerse situasies en die waaghalsige ondeundheid. Ek sê vinnig en sag: DODGEBALL is vet pret as jy van ongefistikeerde vermaak hou. Veral as jy Leon Schuster se komedies ondersteun. Maar as iemand my gedurende ‘n geleerde lesing sou vra wat ek van DODGEBALL dink sou ek sê; Oe nee siesa. 6 uit 10. Gaan kyk en hoop niemand herken jou nie!