DOGVILLE

Die taaiste fliek van die jaar is Nicole Kidman se DOGVILLE. Jy hoor Nicole se naam en gryp jou beursie. Hokaai eers! Die regisseur is LARS VON TRIER, die moedswillig-bevoeterde, eksentrieke en aweregse regisseur van BREAKING THE WAVES en DANCER IN THE DARK. Nou sien ek jou vassteek! Dis ‘n 3 uur lange uitmergeling wat uitsterste eise aan jou uithouvermoë stel maar jou beloon as jy deursit. OF: jy sal dink dis naby ‘n meesterstuk, OF jy sal na 15 minute woedend uitstorm en jou geld terugeis en sommer die bestuurder ‘n tik op die neus gee.

Van Trier vertel die storie van ‘n meisie wat in ‘n skynheilige dorpie aankom. Von Trier het alles op ‘n verhoog verfilm, dus is daar nie mure om die huise nie, net wit strepe op die verhoog, en elke huis en straat se naam word uitgespel terwyl ‘n verteller kommentaar lewer op wat jy sien.

Aan die positiewe kant is dit ‘n kragtige aanval op die skynheilige Amerikaanse samelewing. Aan die negatiewe kant effe aan die lang kant en uitputtend. Dink dus BAIE mooi voordat jy na DOGVILLE gaan kyk wat 8 uit 10 kry… maar SLEGS as jy van kunsflieks hou. Dit prikkel die intellek en stimuleer die sintuie, maar dit stel hoë eise aan die sitvlak. DOGVILLE, absoluut NET vir kunsfundis.