DOOR IN THE FLOOR

Daar is baie mense wat al deur egskeidings geworstel het… of wat onlangs opgebreek het. Toe ‘n joernalis nou die dag vir Jude Law vra wat die drie moeilikste dinge in die wêreld is, het hy gesê: “die dood, om te trek en egskeiding. En die moeilikste daarvan is EGSKEIDING.” En hy behoort te weet. Sy vrou Sadie Frost het hom na hulle egskeiding kaler uitgetrek as wat hy in THE TALENTED MR. RIPLEY was.

DOOR IN THE FLOOR, waarvan ek binnekort ‘n paar kopieë gaan weggee, handel oor egskeiding. ‘n Egpaar, Kim Basinger en Jeff Bridges skei… maar hulle haat mekaar en doen alles om mekaar na die skeiding te dwarsboom en seer te maak. Dan trek ‘n onskuldige student by hulle in, en hulle gebruik hom as wapen om mekaar te vernietig. DOOR IN THE FLOOR is donker, ontstellend, dit beweeg geleidelik na sy baie wrede einde en skok met sy eksplisiete hantering van seks en sy kaalkoppraat oor egskeiding.

Die verskil tussen liefde en haat is papierdun… so bewys DOOR IN THE FLOOR wat jou baie kan ontstel as jy deur dieselfde diep waters is. Of dalk vind jy troos deur te sien dat ander mense net so swaar soos jy gekry het. DOOR IN THE FLOOR kry 6 uit 10. Jy moet taai wees vir hom.