Dune

Dune

David Lynch se 1984-weergawe van Dune het nie baie goed by sy bewonderaars gevaar nie, maar die 2021-weergawe het die wapen van IMAX. Let wel, jy móét DUNE in ‘n IMAX-teater sien. Moenie wag dat dit gestroom word nie, want jy sal glad nie sy impak voel nie. Dit gaan oor die brandmaer jong Paul Atreides (Timothée Chalamet) wat moet bewys dat hy sy magtige pa, Duke Leto Atreides (Jaston Isaac), se plek kan volstaan en ‘n kosbare element moet kan beskerm in die woestyn op die planeet, Arrakis. Sal hy daarin slaag? Ek moet waarsku: die fliek is 2 uur en 45 minute lank en speel dwarsdeur op ‘n woestynplaneet af. Vergeet Lawrence of Arabia. Hy versmoor in die sand. Die film is uitsluitlik in bruin gemaak.  Dis ‘n reuse ruimte-epos wat op die planeet afspeel in verskeie skakerings van roesbruin, en later verstik jy in die sand. Die papierdun storie is ook moeilik om te volg. Maar bewonderaars van Frank Herbert se roman sal my seker in ‘n sandgat gooi, want hulle staan tou vir hierdie epos, en beskou dit as die film van die jaar. Vir my was dit visueel asemrowend en verstommend, ook wat kinematografie betref, maar dit het my emosioneel nie geraak nie. Maar dis net ek. Ruimte- en fantasieslawe mag gek wees oor DUNE.