ELEKTRA

ELEKTRA was ‘n teleurstelling, maar net wat die fliek betref wat nié wil lewe kry nie. Onthou julle nog die blinde Daredevil se tawwe handlanger Elektra met die stywe rooi nommertjie en die supersoniese lang bene wat hul skop ken? Jennifer Garner laat haar uit die dood opstaan in ELEKTRA. En kyk, mooi was nog nooit lelik nie. Dié meisiekind hét dit. Nie alleen kan sy ‘n barshou skop en ‘n dooie karakter vol lewe pomp nie, sy is ook beeldskoon. Die toneel waar sy uiteindelik haar volronde rooi toppie aantrek en haar bene trots vorentoe gooi, is die prys van ‘n toegangskaartjie werd.

Maar as ‘n verfilmde strokie werk dit nie. Dit probeer kliphard om kuns te wees, maar die karakters bly leweloos. Die storie is werklik geyk en selfs vir ‘n strokie te voorspelbaar, terwyl die atmosfeer suf en dood is. Mens kyk daarna, trek jou asem in as Elektra die skurke se wind uitskop, probeer jou asem terugkry as Elektra been wys en spring orent as daar aksie is. Maar dis alles kunsmatig. Binne die eerste 30 minute is jy aan alles gewoond en trek en sloer die rolprent stadig na sy einde.

ELEKTRA kry 5 uit 10 en word aanbeveel as jy na ‘n pragtige meisie wil gaan kyk wa skurke se tande uitskop. Maar in vergelyking met ander strokies soos THE HULK, DAREDEVIL en HELLBOY, om nie van SPIDERMAN te praat nie, is dit maar bra tam. ELEKTRA net vir Jennifer Garner-aanhangers.