ELLA ENCHANTED

‘n Onverwagse verrassing is ELLA ENCHANTED. Hier word die Aspoestertjie-storie se nek omgedraai. Soos A KNIGHT’S TALE ‘n middeleeuse storie ‘n moderne kinkel gegee het, doen ELLA ENCHANTED dieselfde met Aspoestertjie. Die Goeie Feë gee Ella, gespeel deur Anne Hathaway ‘n spesiale geskenk: sy sal te alle tye gehoorsaam wees. Nou hoor ek ouers sê: ag, waar kan ek die goeie vrou se e-pos-adres in die hande kry? My kinders het gehoorsaamheid nodig!

Maar stop die bus! ELLA ENCHANTED het ‘n knoop in die stert. Wanneer haar bose stiefsusters agterkom dat sy als doen wat sy gevra word, misbruik hulle hierdie voorreg. Die gevolge is komies, onder-houdend en baie oorspronklik. ELLA ENCHANTED het ietsie van SHREK in sy are. Dit spot met sprokies en die sogenaamde volmaakte huwelik – maar op so ‘n manier dat kinders sal lê soos hulle lag. Dis nie ‘n “geleerde” satire nie. ELLA ENCHANTED is gemaklike, gesins-vriendelike vermaak en kry 7 uit 10.