Elvis

Elvis

Almal sien al maande uit na ‘n nuwe biografie van Elvis Presley, wat mense sal teruglok teaters toe. En nou is Baz Luhrmann se ELVIS hier – 2 uur en 45 minute lank!

Pas op: Dis ‘n oorweldigende weerlig-skouspel. Die eerste uur is asof jy in ‘n vulkaan gegooi word wat elke kort-kort uitbars deur middel van oormatig en oordrewe redigering ten koste van Elvis die mens, en veral die Dr. Frankenstein-oorheerser, Tom Parker, sy bestuurder. Gedurende die tweede uur kalmeer die film bietjie en gee ‘n blik op Elvis die mens, nie net die heupe nie, en Parker die gierigaard, maar die derde deel ontplof weer in ‘n kakofonie van oordadigheid. Soms beland jy op ‘n visuele mallemeule en hyg selfs na jou asem en soebat dat die brieke net bietjie aangedraai word.

Al gee ek die rolprent 8/10, en al is Austin Butler as Elvis en veral Tom Hanks as Tom Parker briljant, moet jy weet jou sintuie gaan geskud word, en jy gaan oorweldig daar uitstap. Groot dele van Elvis se loopbaan word gerieflikheidshalwe geïgnoreer of verdwyn, soos sy rolprentloopbaan, en hoe siek hy werklik in sy laaste jare was, asook sy dwelmverslawing.

Olivia deJonge as Priscilla, sy vrou, kry skaars ‘n kans om haar merk te maak. En die kamera tol, swiep, tuimel en dans te veel soos ‘n besetene in Baz Luhrmann-styl, seker alles om Elvis se innerlike demone en frenetiese energie te weerspieël.

ELVIS is ontploffend, enorm, en eksplosief oordadig.