FAHRENHEIT 9/11

Uiteindelik, na maande se gewag, bars Michael Moore se FAHREN-HEIT 9/11 toe op ons los. Dit is ‘n direkte aanval deur Michael Moore op George W Bush en sy lens drup van vitrioel. Nou kyk, as jy in tel wil wees, moet jy sorg dat jy dié fliek sien, want dit gaan die tema van gesprekke om braaivleisvure, aandetes en hysbakke wees.

Dis ‘n genadelose oopvlek van hoe Moore Bush sien – hy beeld hom uit as ‘n onbeholpe, dom, verwaande man met tonele wat noukeurig geredigeer is vir maksimum effek. Maar ‘n kamera lieg nie, en die tonele nadat Bush die nuus oor die aanvalle op die World Trade Centre gekry het, en waar hy gesigte vir die kamera trek, gereed om sy nonchalante TV-aankondigings te maak, spreek boekdele.

Wat in FAHRENHEIT 9/11 se guns tel, is omdat Michael Moore, anders as in Bowling for Columbine, nie die fokuspunt is nie. Hy kaap ook nie die fliek nie en is nie so moedswillig soos in ROGER AND ME nie. Die beelde spreek vanself en sy humoristiese, wrang, ironiese kommentaar gee die beelde ‘n nuwe betekenis.

Sorg dat jy kan saampraat. FAHRENHEIT 9/11 is nié ‘n vervelige dokumentêr nie, nog minder is die kontrovesie wat dit veroorsaak het, oordrewe. Vandag is die ideale dag om dit te sien. FAHRENHEIT 9/11, ‘n puik, ontstellende en veelbesproke dokkie wat 8 uit 10 kry.