FINDING NEVERLAND

Die twee grotes wat vandeesweek begin, is eerstens FINDING NEVERLAND. Vir almal wat kla as daar ‘n kragwoord in ‘n fliek gebruik word, of as romanse ‘n bietjie siek raak: hier is ‘n fliek wat niemand kan aanstoot gee nie. Ek twyfel regtig of iemand vies uit die rolprent gaan stap… behalwe as hulle die biografie van Michael Jackson verwag of dink dis ‘n speurverhaal vol soektogte, aksie en koeëls. FINDING NEVERLAND, wat vir ‘n hele paar Oscars genomineer is, kyk na die lewe van J.M. Barrie, gespeel deur Johnny Depp. Hy het Peter Pan geskep. Hy raak betrokke by ‘n weduwee, Kate Winslett en haar 4 seuns… en gerugte wil dit hê dat die spannetjie hom geïnspireer het om die seun wat nooit wou grootword nie, te skep. Maar daar is ook hartseer onder al die vreugde.

As jy hou van delikate periodedramas, ‘n aangrypende ware verhaal, noukeurige aandag aan periode-detail en spel wat dalkies met Oscars kan wegstap, is FINDING NEVERLAND vir jou. Onthou net: dis nie sepie-vermaak nie, nog minder kinkel die storie elke minuut in ‘n ander rigting. Dis gesofistikeerd en intelligent. Dis ‘n sensitiewe drama wat jou na ‘n ander wêreld mag meevoer. FINDING NEVERLAND is ‘n klein meesterstuk as jy jou flieks ernstig opneem.