Firestarter

Firestarter

Het jy al per ongeluk aan ‘n warm stoofplaat geraak? Moet dan nie wéér jou vingers verbrand met FIRESTARTER nie! Dis ‘n lawwe nuwe weergawe van die Stephen King-roman wat as fliek in 1984 uitgereik is.

‘n Meisie met telekinetiese magte kan vure stig. Natuurlik word sy deur magsbeheptes gejag om selfsugtige redes. Haar pa vlug met sy besondere warm dogtertjie ná ‘n aanslag op haar lewe.

Ag, nee wat. Mens skrik groter vir die petrolprys as vir die gruwels in die fliek. En as jy regtig geterroriseer wil word, ry op sekere plattelandse paaie en kyk hoe diep is die slaggate. FIRESTARTER is maar kruppel en sukkel-sukkel tot by 1 uur en 35 minute. Jy kan net soveel keer kyk na ‘n dogtertjie wat brande met haar hande en humeur stig. Hou verby, Meraai! Nie sy geld werd nie.