Four Weddings and a Funeral

Four Weddings and a Funeral

Loop katvoet deur die konfetti. Daar is onlangs ‘n soortgelyke TV-reeks gemaak, maar moenie hierdie 1994-rolprent daarmee verwar nie. Laasgenoemde is so naby aan die perfekte romantiese komedie as moontlik. Ook omdat daar ‘n snapsie tragedie is waar ‘n lewe gevier, pleks van gesnik word. FOUR WEDDINGS AND A FUNERAL, die 1994-weergawe op stromingsdienste, gaan oor ‘n lomp vrygesel (Hugh Grant is briljant en rasend komies) wat altyd ‘n strooijonker of gas op ‘n huwelik is, maar nooit die bruidegom nie. Hy word vergesel deur sy loskopdolla-vriendin met die verestowwer hare… en hulle is altyd laat.

Natuurlik sê Grant se karaketer altyd die verkeerde ding op die verkeerde tyd met sy blink gepoleerde skoen op sy tong. Maar dis die manier waarop hy sy flaters weggooi en onderspeel, wat ‘n mens in kontorsies van die lag plaas. Daarom, al hét jy dit al gesien, FOUR WEDDINGS AND A FUNERAL van 1994 kry 10 uit 10 vir vindingrykheid, amusante kwinkslae, die volronde, netjies-afgronde karakters, en die waarheid. Soms ontmoet jy jou sielsgenoot op ‘n huwelikseremonie wanneer dit te laat is. Kyk FOUR WEDDINGS AND A FUNERAL ten alle koste weer.