GARFIELD

Jammer, Garfield-aanhangers, maar die fliek is ‘n lelike gekattemaai en steek lelik af by sy strokie-eweknie. Ek is dol oor sy moedswillige humor in koerante, die plateslaande spinnekoppe en die gevatte miere. Ook daai dowwe grynslag wat die bol wol gee en die katterjasie se geniepsige wolhaarpoot wat ODIE op die snoet pot. In 3 strokiespanele gebeur net genoeg om jou te laat grinnik en aan te beweeg. In die fliek moet jy vir 80 minute na uitgerekte dun stories kyk en… jammer ou katarsis, maar jy’t nie genoeg sjarme om ‘n hele fliek te dra nie. Boonop is JON glad nie so ‘n bleeksiel soos in die strokie nie. Hy kry selfs vir Jennifer Love-Hewit! En dit klop nie met die strokie nie. Jy’s net so dol oor die strokie soos ek? Lees hom liewer weer in vandag se koerant en mis die fliek. Dis ‘n ander, stroperige Garfield daai, al is Bill Murray se stem so goed. GARFIELD kry 4 uit 10.