GOOD BYE LENIN!

GOODBYE LENIN begin vandag net in Kaapstad en Johannesburg…en kan ek vir julle sê: as daar nou een kunsfliek is wat julle op jul lysies MOET sit, is dit hierdie een. Geen pretensie, geen hoogmoed, geen holier than thou-houding nie. Net ‘n menslike tragi-komedie wat jou lewe verryk. Dit gaan oor ‘n stoere ondersteuner van kommunisme, gespeel deur Katrine Sass, wie se man haar verlaat. Net voor die Berlynse skandmuur val, sien sy hoe haar seun, Daniel Brühl, in ‘n onderonsie met die polisie gewikkel is. Dit skok haar so dat sy in ‘n koma beland. Die ma bly vir 8 maande in die koma terwyl veral haar seun haar daagliks besoek. Intussen val die skandmuur, maar sy is salig onbewus daarvan. Wanneer sy dus uit die koma kom, waarsku die dokter haar seun dat die geringste skok haar einde kan beteken. Die laitie kom dan met ‘n slim plan vorendag: om sy bedlêende ma nié te vertel dat Oos-Duitsland nou verwesters het nie. Maar kan hy dit volhou? Hy herskep dus die ou Oos-Duitsland in haar slaapkamer terwyl die nuwe demokraise buite die kommuniste op hul kop draai. GOODBYE LENIN is menslik, boeiend, hartseer, snaaks maar bowenal briljant. Ek sou so ver gaan om te sê dis een van vanjaar se beste en mees menslike flieks. As jy van iets ànders hou, iets buite die gewone waar jy met ware mense, in teenstelling met Hollywood se eendimensionele tipes, te doen kry, gaan kyk GOODBYE LENIN. Dis absoluut puik en kry 9 uit 10. So ‘n fliek land in ons teaters een maal per jaar…