HERO

Dit gebeur soms dat ons ‘n fliek so lank voor die tyd sien… dat as mense vir jou vra wat wys tans en waarna kan hulle gaan kyk, jy verward rondsoek na ‘n naam. Vandag praat ek oor HERO, en sal julle glo? Ek het die fliek al in Julie 2004 gesien en dit wys NOU eers hier. Maar ek hoef nie in my notas te soek om te onthou dat ek dol was daaroor nie. HERO is nog so helder in my gedagtes asof ek dit gister gesien het.

Toets jou reaksie as ek die volgende beskrywing gee. HERO gaan oor drie sluipmoordenaars wat die koning van China wil vermoor. Op ‘n dag daag ‘n bobaas swaardvegter, gespeel deur Jet Li op en stel die koning gerus. “Ek het die drietal vermoor. U lewe is veilig,” sê hy vir die verbaasde koning. “Goeie nuus,” antwoord die koning, “want ek wil die 7 koninkryke van antieke China verenig, en met hulle op my spoor, kon ek dit nie doen nie.”

Dalk is jy verward. Is dit ‘n Oosterse gevegskunsfliek? Dus martial arts? Is dit steek, skop en doodslaan? Is dit ‘n oudmodiese stuk geskiedenis? Wat maak Jet Li dan daarin? Al hierdie vrae is geoorloof. Wat beteken HERO is soos min ander flieks wat jy al gesien het. Dit was vir 2 jaar lank ‘n kultusfliek in China voordat Miramax dit opgeraap het. Dit het vir 3 weke lank koning gekraai by die Amerikaanse loket en is een van die grootste geldmakers nóg vir ‘n anderstalige rolprent. Dis in Sjinees met byskrifte.

In HERO lyk elke prentjie na ‘n skildery. Die gevegstonele is asemrowend gechoreografeer, die storie is boeiend en selfs verkwiklik en die herskep van perdiode in die kol. Dis soos CROUCHING TIGER, HIDDEN DRAGON – ‘n kunswerk in die gevegskuns en hoegenaamd nie wat jy verwag nie. Maar dan is dit OOK NIE ‘n fliek waarvan almal sal hou nie. Dis NIE Kill Bill nie, dus kan tienerlaities maar daai droom laat vaar. Dis ook nie Bruce Lee nie. Dis ‘n gesofistikeerde en kunstige rolprent oor die Oosterse gevegskuns wat 8 uit 10 kry. HERO is anders. Aanbeveel as jy graag kanse waag as jy fliek.