HIDE AND SEEK

Nee, dis nie wat jy doen as die belastinggaarder aan jou deur klop nie. Dis ‘n teruggryp na die speletjie wat ons almal as kinders gespeel het. ‘n Bedroefde pa, (Robert De Niro) ontdek sy vrou se lyk nadat sy selfmoord gepleeg het. Hy neem sy dogtertjie weg na die platteland om haar te help om die trauma te verwerk. Dan ontdek hy dat sy ‘n vriendjie het, genaamd CHARLIE en dat dié kalant moorddadige gedagtes het. Hoe beskerm jy jou kind teen ‘n fiktiewe maatjie wat dalk net in haar kop bestaan?

HIDE AND SEEK is ‘n ligte grilverhaal sonder te veel bangmaak-kalorieë. Jy sal dus nie onder jou bed inloer voordat jy gaan slaap nie. En as jy grillers kén, sal jy vinnig deur die prent se truuks sien. Ja, katte spring onverwags uit kaste uit, en ja: kamerdeure gaan krakerig oop en ligte gaan uit sodra ‘n spook om ‘n hoekie loer. Maar dit sal jou tere gemoed geen erge skade aandoen nie. Wat in die fliek se guns tel, is die spel van klein Dakota Fanning wat bewys: sy kan die tweede Jodie Foster word. HIDE AND SEEK: as jy wil hê jou meisie moet jou hand in die donker soek maar jy wil nie self bang word nie.