HILLBILLY ELEGY

HILLBILLY ELEGY

Toemaar Hugo, Jy hoef nie die polisie te bel nie! HILLBILLY ELEGY gaan dalk met ‘n handvol Oscars wegstap! Dit is gebaseer op die ware verhaal van ‘n slim en voortgedrewe seun wat aan die verkeerde kant van die treinspoor grootgeword het. Mense het neergesien op die Hillbilly’s of Maplotters, mense wat eenvoudig grootword en nie altyd gesofistikeerd is, of die regte geluide maak nie.

Nie alleen is die seun se ma (‘n briljante Amy Adams) aan dwelms verslaaf nie, sy tree ook onvoorspelbaar op, sodat haar gesin hulle vir haar skaam. Maar die seun (die briljante Gabriel Basso) staan by sy ma en kry haar telkens uit die moeilikheid, selfs al kos dit sy studie en ‘n moontlike loopbaan. Dis egter sy ouma (die onvergelyklike en byna onherkenbare Glenn Close) wat die aandag kaap. Jy het nog nooit so ‘n karakter gesien nie. Haar sêgoed en uitkyk op die lewe ruk die seun gedurig terug werklikheid toe.

Jy sal skaterlag, dink die mense is stapelgek, maar iewers klop daar ‘n warm hart. Dis ‘n ode aan liefde, toewyding en ondernemingsgees. Vergeet van die ander aanbiedinge op Netflix en gee hierdie film ‘n kans. Dis absoluut uitstekend.