HOME ON THE RANGE

Wanneer was die laaste keer dat jy ‘n goeie, outydse tekenprent gesien het? O, jy sê kleinboet se geskribbel op die muur wat geen Handy Andy afkry nie? Nee, nie dit nie. Ook nie die rekenaargedrewe SHREK of SHARK TALE nie… maar HOME ON THE RANGE. Dis so sjarmant soos ouma se uithaler melktert, so raar soos ‘n fliek sonder vloekwoorde en so innemend soos… nou ja, Cobus Bester as hy soggens agter die mikrofoon inskuif.

Wees nou eerlik. Wanneer het jy laas ‘n koei gemelk? Nie onlangs nie… jy beter leer voordat jy na HOME ON THE RANGE gaan kyk, want die drie heldinne is koeie wat al moo-end die maan… en die ander diere…. besing. Maar groot is hulle skok as hulle plaas oorgeneem word… en die diere moet saamstaan om die bedreiging die hoof te bied.

Nee, dis nie ANIMAL FARM nie, en dis nie so vreesaanjaend soos dit klink nie. HOME ON THE RANGE is die suiker op jou spookasem, so oulik en vriendelik is dit. Kyk, as Disney ‘n animasiefliek maak, probeer hulle om so min moontlik mense aanstoot te gee. Dus kan jy HOME ON THE RANGE met ‘n geruste hart gaan kyk, daar’s niks wat jou sal ontstel nie. En wie weet, dalk gallop jy saam met die perde, trippel saam met die koeie of sing saam met die voëltjies.

Ek self het nie so baie daarvan gehou nie. Die fliek het my aan daai irriterende maatjies dink wat ons almal gehad het wat juffrou se guns probeer wen het deur elke dag vir haar ‘n appel te bring. En as jy eers SHREK en sy maatjies beleef het, is HOME ON THE RANGE maar erg gemiddeld. Tog, as die kleingoed sat geswot is en hulle wil hulle moeë breine in neutraal sit, is HOME ON THE RANGE seker 6 uit 10 werd.