House of Gucci

House of Gucci

HOUSE OF GUCCI het my sukkel-sukkel oortuig, omdat Ridley Scott se regie erg melodramaties is, en jy nie weet wat om te glo en wat nie. Soms is dit uitspattig oordadig, soms word die waarheid duidelik bygelieg, ander karakters raak te groot vir die silwerdoek, en iewers probeer die waarheid kop uitsteek. Die Gucci-familie het Scott erg geroskam oor die uitbeelding van sekere karakters.

Patrizia Reggiani, ‘n wilde meisie, trou in die magtige Gucci familie in, maar kies die bedaarde seun Maurizio. Sy loop haar vas in ‘n oorlog  waarin mense mekaar gruwelik verkul en mislei. Soms is dit oordrewe, soos Lady Gaga as Patrizia en Adam Driver as Maurizio Gucci, wat net nie vir my pas nie. Soms is dit briljant, soos Jared Leto as die swak Paolo, en dan is dit effe belaglik soos Al Pacino wat op dieselfde clichés terugval as gewoonlik en vloermoere gooi.

My raad is: kyk eers na dokkies oor die Guccis sodat jy agter die kap van die byl kan kom. Oordadig, astrant, vergesog, parmantig, vreesloos. Maar hoe naby aan die waarheid is dit?