HOUSE OF WAX

Ek wonder hoeveel van julle HOUSE OF WAX destyds met Vincent Price gesien het… indien wel, verklap jy jou ouderdom, want dit het in 1953 gewys… selfs voor MY tyd… en was ‘n klassieke riller. Die nuwe weergawe met Paris Hilton begin vandag… en baie mese sê dis die moeite werd om daarna te gaan kyk, al is dit net om te sien hoe Paris ‘n grieselrige einde tegemoetgaan.

Sy is seker DIE simbool van ‘n Hollywood-loskopdolla – wat net bekend is omdat sy bekend is met haar uurglaslyfie, peroxide-hare en skraps talent. Sy is een van ‘n groep wellustige tieners wat op ‘n verlate dorpie in Amerika afkom met ‘n wasmuseum. Gou ontdek sy en die gewone groep monster-voer-tieners… net geskep om vermoor te word, dat alles nie pluis is nie. ‘n Psigotiese tweeling gebruik mooi jong lywe om as lewende modelle te dien vir waspoppe… en die was word oorgegiet terwyl hulle nog lewe. Mens sien nie die verskil tussen die lewende Paris en die waspop-weergawe nie…

Hoekom ek so vroeg in die oggend so gruwelik gewelddadig raak? Want dit gee jou ‘n idee watter soort fliek om te verwag! Ek moet erken, dit was nogal grillerig! Nou kyk, daar is altyd seker flieks waarvan ‘n resensent nie veronderstel is om te hou nie, en HOUSE OF WAX is een van hulle. Maar basta met wat die buitelandse kritici sê. My sitplek se leunings was deurgevat en ek het nie kans gehad om eers een keer suur te glimlag nie. HOUSE OF WAX is bangmaak se moses, BAIE bloederig en gewelddadig, dus kan eksplisiete geweld en taalgebruik aanstoot gee.