I Give It A Year

I Give It A Year

Hoe dikwels het jy al by ‘n huwelikseremonie gesit, dan fluister skoonma: “Ek gee hulle ‘n jaar.” Dis waaroor die 2013-flim I GIVE IT A YEAR gaan. Dis ‘n onbekende romantiese soettand-komedie wat jy sal mis as jy jou oë knip, maar soek daarvoor op stroomdienste. Jy sal skater, jy sal jou kop skud en sê: “ag nee sies man!” en jou sterre dank hulle is nie jou skoonfamilie nie. En: dat een van die hoofkarakters nie die seremoniemonster op jou troue is nie! Daai bek kort chillies.

Twee mense wat duidelik nie reg is vir mekaar nie (die popmooie Rose Byrne, wat altyd lyk asof sy na die volgende klas ná speeltyd soek) en die aantreklike Rafe Spall trou.  Gedurende die gruwelike dubbelsinnnige grappe van die seremoniemeester wil hulle in die ou Koos onder die bed wegkruip. Maar dis niks in vergelyking met wat ná die seremonie op hulle wag nie. Want nes in die Afrikaanse rolprent, Wonderlus, ontmoet hulle die regte persoon na hulle troue.

Die vraag is: is dit moreel korrek om daarna te skei en jou hart teenoor jou regte lewensmaat oop te maak? Veral as hy die aansienlike Simon Baker is wat selfs ‘n bril sensueel kan maak, en die pragtige Anna Faris?

Die kwinkslae glip soos sportmotors by jou verby, en daar is iets van Notting Hill hierin. Maar die manier waarop die ware minnaars mekaar vind, maar besef hulle mag dit nie verder neem nie, maak I GIVE IT A YEAR so snaaks soos ‘n boepensomie wat op ‘n piesangskil gly, opstaan en maak of niks gebeur het nie. Dis verkwiklik vermaaklik, verkwansel romanse vir ‘n oulap en is spitsvondig snaaks. I GIVE IT A YEAR maak charades die snaaksste spel van die jaar.

Ek moet erken dat ek die film jare gelede gesien het en nie daarvan gehou het nie. Nou, 8 jaar later met meer ervaring en dalk ‘n beter sin vir humor, dink ek dit is regtig snaaks. Kyk daarna. Vorige resensie, my fout!!