I, ROBOT

Lê laag… lê baie laag… dis my boodskap aan julle almal, want die koelste fliek van die jaar begin vandag. As jy op die planeet MARS was, is jy dalk die enigste wat NIE weet van I, ROBOT nie. Of nee wag… as jy op Mars was, sou jy dit WEL geweet het, dalk self beleef het! Want I, ROBOT speel nie te ver van Mars af nie.

Nou kyk, laat ek dit net van my hart afkry. Naas Cobus Bester is Will Smith die koelste ou op die planeet. Of… sal ek sê, in die ruimte? Want ‘n klomp van sy flieks hét al in die ruimte afgespeel! Onthou jy INDEPENDENCE DAY en, in ‘n mate, die MEN IN BLACKs?

I, ROBOT kom uit die pen van Isaac Asimov – die brein wat vir vele ander wetenskapfiksies gesorg het. Alex Proyas is die regisseur. Nou wie’s HY as hy by die huis is vra jy. Hy het die pikdonker-fliek THE CROW gemaak… dus is I, Robot ook donker… maar nie só donker dat dit jou die ritteltits sal gee nie.

I, ROBOT het ‘n nuwe ouderdomsperk. Ouers kla gereeld by my en sê: hul kinders wil flieks soos SPIDER-MAN 1 sien, maar ouderdomsperke keer hulle! Met i Robot moet ouers kinders jonger as 10 vergesel. Hulle kan nie net sê: reg, span, gaan kyk nie. Hulle moet saamgaan. Onthou: I, Robot moet liefs nié deur kinders jonger as 6 gesien word nie.

Maar steeds, I, Robot is… en ek oordryf nie…supersonies vermaaklik. Ek sal erken, ek is ‘n wetenskapfiksie-aanhanger. 2001, A SPACE ODYSSEY, BLADE RUNNER en DARK CITY is van my gunsteling flieks. I, ROBOT tel onder die bestes! Die spesiale effekte is asemrowend. Kyk, jy het lanklaas soveel fantastiese effekte gesien… en: die effekte kaap nie die fliek nie. Dit gaan veral om die storie!

Mens wil nie altyd dink as jy fliek nie. Soms, na ‘n harde week, wil jy net vermaak word. I, Robot is so ‘n fliek wat 8 uit 10 kry. Een van die beste wetenskapfiksies nog!