JERSEY GIRL

Elke keer as ek Ben Affleck sien, dink ek aan Doris Brash se liedjie oor die lappop op die ashoop. Want Ben kraai nou koning op die Hollywood ashoop. Die arme man het ‘n paar liederlike verkeerde keuses in sy lewe gemaak… die eerste was die Jennifer Lopez-sirkus. En na GIGLI is dit JERSEY GIRL. Ek lees toevallig Woensdag dat Ben ‘n soort mini-senu-ineenstorting gehad het by ‘n perskonferensie. Hy het gegiggel, sy kop op JENNIFER GARNER se skoot verberg en onsamehangend gemompel en die vreemdste dinge kwytgeraak. Na JERSEY GIRL is ek verbaas dat hy nog sy gesig in die openbaar wys.

Dit gaan oor ‘n man wat sy vrou aan die dood afstaan: Jennifer Lopez speel dié rol. Dan moet hy sy dogtertjie alleen grootmaak… tot ‘n nuwe vrou, Liv Tyler wat lyk of sy nog onder Golum se invloed is in THE LORD OF THE RINGS, sy lewe annekseer. Niks verkeerd met daardie storie nie. Die probleem is dat BEN AFFLECK my aan NIGHT OF THE LIVING DEAD laat dink. Die man kan nie komedie speel nie en loop soos ‘n lewende dooie wat ‘n laaistok ingesluk het met ‘n houtgesig deur die rolprent rond. Al wat nog moet groei, is sy neus.

Hy is uitdrukkingloos en kan nie ‘n romantiese komedie op sy vierkantige skouers dra nie. JERSEY GIRL is tam, traag en moeisaam… jy het die storie al honderd maal gesien en die romanse neem 100 trae minute om sy voorspelbare einde te bereik. Ek raai mense selde van ‘n fliek AF, maar JERSEY GIRL is geldmors. Gaan kyk liewer weer na THE NOTEBOOK. JERSEY GIRL is die spyker in Ben Affleck se 6voet 6 doodskis en kry 3 uit 10. Hoekom nie 1 nie? LIV TYLER se skoonheid. Mens kan maar net na haar staar…