KING ARTHUR

Kyk! Een ding is nou maar wors, soos ROOIE in die Trompie-reeks gesê het: Suid-Afrikaners hou van eposse. Kyk na die sukses van TROY en HIDALGO onlangs. As eposse jou net so opgewone maak soos ‘n Springbok-oorwinning, is KING ARTHUR vir jou.

Die keer vertel hulle glo die ware storie. Koning Arthur is as jong seun uit Rome ontvoer en na Brittanje verban wat deur Rome beset is. Hier het hy ‘n formidabele kryger geword saam met sy ridders, waaronder LANCELOT getel het. Hulle het die barbaarse vyand op hul plek gesit.

KING ARTHUR kyk deur ‘n ernstige bril na Arthur wat Guinevere van ‘n wrede vyand gered het. As jy dink CAMELOT of EXCALIBUR het die hele storie vertel… dink weer. Hierdie KING ARTHUR probeer vir jou die geskiedkundige feite wys: DUS: daar is geen driehoeks-verhouding tussen ARTHUR, LANCELOT en GUINEVERE nie.

Die gevegte is asemrowend. Daar is ‘n geveg op ‘n verysde rivier waar geen spesiale effekte soos in TROY gebruik is nie. Dis die ware jakob. CLIVE OWEN is ‘n ernstige ARTHUR, IOAN GRUFFUD ‘n toegewyde Lancelot en die fliek word oorheers deur pragtige Keira Knightley as GUINEVERE. Jy’t nooit geweet sy was ‘n meisie van staal nie? Wag tot jy sien wat hierdie Guinevere met ‘n pyl en boog kan doen!

KING ARTHUR is nie HEELTEMAL wat jy verwag nie. Daar’s min romanse, baie oorlog en vele feite oor ‘n donker tyd van moord en doodslag. Moenie ‘n uitbundige, glansryke avontuur verwag nie. KING ARTHUR kry 7 uit 10. In die kol as jy van ernstige eposse hou. Maar jy mag teleurgesteld wees as jy slegs vermaak soek.

Niemand onder 13.