KINGDOM OF HEAVEN

Jy’t van TROY gehou? Jy’t gedink Colin Farrell is die koelste Alexander in die geskiedenis? En King Arthur en Gladiator het jou sommer die video weer laat huur. Dan mag jy van KINGDOM OF HEAVEN hou. Dis Ridley Scott se jongste fliek, die man wat GLADIATOR gemaak het. Dit gaan or die kruistogte gedurende die Middeleeue toe Muslims en Christene teen mekaar geveg het om besit van Jerusalem… ‘n stryd wat vandag steeds voortgaan. ‘n Jong ystersmid, gespeel deur Orlando Bloom SONDER ‘n borshaarpruik, voel homself geroepe om die Christene te lei.

Dis skouspelagtig en oorweldigend. Die oorlogstonele is van die beste nog en ook van die bloedigste. Dis selfs groter as TROY s’n, maar ek moet waarsku, KINGDOM OF HEAVEN is nie so toeganklik of vermaaklik as TROY nie. Dit sidder van geweld, massatonele en tuimelende mure. En daar is natuurlik bietjie romanse en menslikheid tussenin gegooi. KINGDOM OF HEAVEN is werklik ‘n asemrowende skouspel, maar dis ‘n taai sit van oor die 2 ure en jy VOEL dit. Aanbeveel as jy van reuse-gevegte en eksplisiete geweld hou. Anders, kies iets meer intiem! Dis baie meer BRAVEHEART as GLADIATOR. Weet dus waarvoor jy jou inlaat.