KINSEY

Ek is BAIE versigtig wat ek oor KINSEY sê… want hier kan ‘n tweede CLOSER wees waar die e-posse van klagtes oor seks, taalgebruik en banale beskrywings op my kan neerreën. Weet dus aan die begin: as taalgebruik, die openharige verwysing na seks en die ontginning van die verskillende vorme van menslike seksualiteit jou skok, bly VER weg van KINSEY, want dit kan jou lelik omkrap.

Aan die positiewe kant is dit ‘n puik rolprent wat erg kan skok en wat op die waarheid gegrond is. Liam Neeson en Larua Linney speel die hoofrolle. Dit gaan oor professor Alfred Kinsey wat in die jare 40 navorsing oor Amerikaners se seksualiteit gedoen het en ‘n koelkop-boek daaroor geskryf het. Kinsey het gesê daar is nie iets soos “normale” seksualiteit nie, en dat alle mense hul eie unieke seksuele voorkeure het. Hy het dit bloot aangeteken en het sy eie biseksualiteit in die proses ontgin.

As ‘n biografie oor ‘n baanbrekersfiguur is dit knap, dit noem ‘n ding by die naam, dit praat oopkop oor seks en seksuele voorkeure en veroordeel konserwatiewe sienings van seks. Weet dus, as jy na KINSEY gaan kyk, gaan daar taal wees wat jou erg kan skok. Vir my was dit ‘n puik uitbeelding van ‘n kontroversiële lewe en baanbrekerswerk.