LADIES IN LAVENDER

Kyk, so ‘n mooi storie het ek nie sedert GOODBYE LENIN! Gesien nie. Toevallig speel dieselfde akteur, Daniël Bruhl, weer daarin. Dit gaan oor twee middeljarige dames, gespeel deur Judy Dench en Maggie Smith in die skemerjare van hul lewe. Een oggend ontdek hulle ‘n jong man wat op die strand uitgespoel het. Hy maak hulle lewe weer mooi en bring vreugde terug in hulle bestaan. Maar sal hy vir altyd by hulle bly? LADIES IN LAVENDER gaan oor oudword. Oor hoe ‘n mens jou laaste jare met ‘n blye gemoed en dankbaarheid moet aandurf… en watter belangrike rol vriende in jou lewe speel. Dis ‘n beeldskone rolprent vol warmte, liefde, vriendelikheid en ‘n hart wat warm klop. Ek het toevalig buite ‘n teater gestaan waar ‘n voorvertoning van LADIES IN LAVENDER gehou is… almal wat uitgekom het was in trane. Nie omdat iemand doodgaan nie, maar omdat die storie so mooi is en so direk met sy gehoor kommunikeer. En dit speel op die Engelse platteland af. Die fotografie is nostalgies, mooi, aangrypend en sielvol. Jy sal regtig dom wees as jy LADIES IN LAVENDER laat verbygaan. Vir almal wat e-posse stuur en kla oor taalgebruik en sekstonele en wreedheid in rolprente, hier’s een wat aan jou hart sal vat met NIKS wat ENIGIEMAND kan aanstoot gee nie. Jongmense sal daarvan hou, maar dis veral op ouer luisteraars gerig. LADIES IN LAVENDER, pragtig, perfek vir vanaand of in die oggend as jy saam met vriendinne na iets aangrypends wil kyk.