LITTLE BLACK BOOK

Het jy ‘n klein swart boekie? Wie se name verskyn daarin? Brittany Murphy se naam verskyn in HOLLY HUNTER s’n met katastrofiese gevolge… LITTLE BLACK BOOK gaan oor ‘n onnutsige jong meisie….ek kan nie ‘n ander woord gebruik nie…wat by ‘n TV-stasie gaan werk. Gou verloor sy die bietjie onskuld wat sy nog gehad het en raak verlief op ‘n vleispaleis met ‘n houding, tot sy uitvind hy het drie verhoudings voor haar gehad. Maar dan gryp die televisiewêrwereld in en alles verander.

Die titel moet jou reeds waarsku: LITTLE BLACK BOOK is nié die soort fliek waarheen jy vir ouma sal neem nie as sy vra: “Kind, kies vir my ‘n lekker skoon film met ‘n suiwer storie”. Ouma sal jou summier onterf en die hasepad kies as sy daar uitstrompel. LITTLE BLACK BOOK is moedswillig, dit skok, taal kan mense die berge oorjaag…en die storie is tipies van die TV-wêreld. Dis ‘n brak-eet-brak-wêreld waar rugstekery seëvier en mense juig oor mekaar se ondergang. LITTLE BLACK BOOK is dus net as jy lus is vir ‘n swart komedie met donker humor en ‘n geniepsige kinkel in haar kousbroekie. 5 uit 10.