MANK

MANK

Min mense sal weet wie Herman Mankiewicz was. Hy was een van Hollywood se toonaangewende draaiboekskrywers in die 30’s en 40’s en was by tot 80 draaiboeke betrokke op die een of ander manier. MANK, op Netflix, is ‘n taaier as hoesstroop-fliek. Dit gaan oor die geveg tussen die wunderkind-regisseur, Orson Welles, en die besope Mankiewicz, oor wie die krediete verdien het as draaiboekskrywer van Citizen Kane. Laasgenoemde word beskou as moontlik die beste film wat ooit gemaak is. Mankiewicz voel hy het alleenkrediet verdien want dis sy draaiboek. Welles, ego en al, stem nie saam nie.

In MANK, soos tipies in David Fincher se films, gaan dit veral oor ‘n selfvernietingsproses. Herman Mankiewicz was meestal besope, maar hy was vriende met die koerant- en uitgewer-magnaat, William Randolph Hearst, en Citizen Kane het natuurlik grootliks oor hom gegaan. Maar Mankiewicz was meestal bedlêend en beskonke terwyl hy die draaiboek geskryf het, en die rolprent wys dit in geen onsekere terme nie.

As jy Citizen Kane nie eintlik ken nie, sal MANK moeilik wees om te volg, verstaan of waardeer. Selfs David Fincher-bewonderaars sal voel hierdie geniale regisseur het nou te ver gegaan. Visueel is dit asemrowend, maar Fincher oorskat sy gehoor en homself ‘n bietjie, en soos Citizen Kane vir Orson Welles oorgeneem en verdwerg het, gebeur dieselfde in ‘n mate met MANK. Wat my betref is dit nie een van Fincher se beste nie.