Mare of Easttown (Reeks)

Mare of Easttown (Reeks)

Sy lag net een keer in die reeks MARE OF EASTTOWN, in episode 6, en dan dink jy jy hallusineer. Die lewe het oud geword in haar oë, sy is onversorgd en die demone slaan soos puisies op haar vel uit. Speurder Mare Sheehan, meesterlik gespeel deur Kate Winslet, moet  baie duiwels begrawe en oor baie kopbene klouter om haar doel in die reeks te bereik. Maar rondomtalie ‘n vrou in ‘n hoek, en sy pluk die A van Skoppens uit haar mou voor jy jou oë knip.

MARE OF EASTTOWN gaan oor ‘n wilde-wragtag van ‘n polisievrou, die suf, oorwerkte en neurotiese Mare, wie se seun selfmoord gepleeg het. Intussen probeer sy ‘n reeksmoordenaar vastrek, en ‘n ander moord in haar persoonlike lewe oplos. Hoe sy haar soos ‘n akrobaat tussen chaos en praktiese uitvoerbaarheid balanseer, vrede maak met haar depressie en probeer om die gruwels van ‘n kinderontvoerder op te los, maak MARE OF EASTTOWN ‘n reeks wat top punte verdien. Dit mag jou uit jou pantoffels skok, maar jou oë sal soos toffies aan die skerm kleef vir 7 episodes.