MILITARY WIVES

MILITARY WIVES

MILITARY WIVES gaan oor hoe vroue smart, onsekerheid en frustrasie op ‘n positiewe manier verwerk. Dit onderstreep die feit dat daar min dinge is wat ‘n dapper vrou kan onderkry wanneer sy eers besluit het om skouer aan die wiel te sit.

Hier begin die dames te sing. Hulle woon op ‘n militêre basis, en terwyl die vroue se mans in Afghanistan diens doen, moet hulle hulleself besig hou. Die vrou van die bevelvoerder (met kragtige entoesiasme deur Kristin Scott Thomas gespeel) stig ‘n koor. Die vroue bied egter teenkanting en sien geen nut in liedjies nie. Buitendien kan feitlik niemand regtig sing nie. Maar wanneer vroue entoesiasties saamstaan, gebeur wonderwerke. Hulle leer sing, ondersteun mekaar, en gou is hulle koor kragdadig en sing elke slag net beter.

Dan kom die slegte nuus. Sommige se mans sterf of word verwond, en hulle enigste uitkoms of troos is sang. Hierdie inisiatief het aanleiding gegee tot die stig van tientalle soortgelyke kore in die werklike lewe. MILITARY WIVES sal jou bemoedig en besiel.