MILLION DOLLAR BABY

Die grote wat vandag ‘n barshou slaan met Oscars in sy hand, is MILLION DOLLAR BABY. Dit is Clint Eastwood se boksdrama met Hilary Swank en Morgan Freeman, albei Oscarwenners, asook Clint Eastwood wat die Oscar gewen het as beste regisseur en beste vervaardiger.

Moenie ROCKY verwag nie. Ook nie RAGING BULL nie. Dié fliek is anders en gaan oor ‘n meisie, Hilary Swank, wat van die verkeerde kant van die spoor af kom. Om haar wrede pa se ontglip, word sy ‘n bokser. Die rolprent handel oor die vriendskap tussen haar en haar afrigter en promotor en hoe sy harde bene in die kryt kou. Tot op ‘n punt.

Weet net: MILLION DOLLAR BABY moker vir arme Hilary Swank dat sy bly lê daarvan. Dis nie ‘n sexy Rocky in vroulike gedaante nie. Dit gaan oor die vriendskapsverhouding tussen haar en die twee manne wat haar afrig. Weet ook dat dit ‘n donker rolprent is wat ‘n ding direk aanspreek en wat wys hoe taai ‘n vrou moet wees om in die kryt te oorleef. Dit is NIE Vrydagaandvermaak nie. Ek sien nou al hoe die e-posse op my neerreën van teleurgestelde luisteraars wat verwag het om springmielies en koeldrank te verorber en toe met rooigehuilde oë uitstap. Dink BAIE mooi voor jy gaan.

Vir my was MILLION DOLLAR BABY ‘n uitstekende rolprent. Ek sou dit nie een van die tien bestes van die jaar noem nie, maar Eastwood het ‘n eenvoudige rolprent gemaak, gestroop van enige truuks of foefies of kommersiële storieslenters. Jy kry die indruk jy kyk na die waarheid.