MISS CONGENIALITY 2: ARMED AND FABULOUS

As jy daai langnaweekglimlag wil behou, takel MISS CONGENIALITY 2: ARMED AND FABULOUS met Sandra Bullock and Regina King. Wat ‘n sjarmante komedie! Ja, goed, die storie is ‘n nabootsing van die oorspronklike en dis so voorspelbaar soos die verkeersdrukte soggens. Maar tog bly dit bekoorlik om ‘n bekende vriendin op te soek. En dié slag het sy kollega wat haar en haar ego aanvat.

Mejuffrou Amerika en die seremoniemeester word ontvoer en Gracie Hart moet hulle red. Maar sy’s nou ‘n ster. Het sy haar instink verloor? MISS CONGENIALITY 2 is rêrig ‘n springmielie-laaglêfliek. Jy sit agteroor, stop lekkergoed in jou mond, maar sorg dat jou kieste nie te vol is nie… sodat jy nog steeds oopmond kan lag. Mens voel GOED en sorgvry as jy uit Miss Congeniality stap. Dis ‘n hoogskop, kamp, uitgelate, sjarmante springmielie-fliek wat jou langnaweek springlewendig gaan maak!