NATIONAL TREASURE

Almal wat opwinding en avonture groter-as-die-lewe-self soek moet maar hierby uitkom. Ek het die lomp, gedwonge steroïde-fliek gehaat want ek kon van die begin daardeur sien, maar studente, skoolkinders en almal wat dol is oor aksie, sal teen hulle neuse afkyk na my hieroor. Wat my betref oorskry dit alle perke van voorspelbaarheid, is die patriotiese storie heeltemal te dik vir ‘n daalder en is Nicolas Cage stokkerig en vervelig.

As ek nie die fliek verniet gesien het nie, het ek my geld teruggevra, bloot omdat ‘n mens nou TE VEEL soortgelyke aksiekapperjolle gesien het, ‘n kruis tussen ‘n breinlose Indiana Jones en die arm man se DA VINCI CODES. NATIONAL TREASURE is vol steroïdes, woema-avontuur, onwaarskynlike romanse, eksotiese plekke en ‘n pap storietjie wat nog papper gedruk word om dit gehoorvriendelik te maak. Ek gee dit 3 uit 10. Jy mag egter dink dis lekkerder as ‘n koel stort op ‘n snikhete warm middag.