NEXT (Reeks)

NEXT (Reeks)

NEXT is nie kinderspeletjies of videospeletjies wat jy kapow, joe-hoe! voor die rusbank speel nie. Jonges wat rekenaars beter ken as die pad huis toe, mag hulle verkneukel aan die reeks, veral as Siri, die meisiestem met wie jy praat as jy dinge gedoen wil hê, nou vervang word met die geslepe Eliza, wat met jonges se koppe smokkel en hulle aanraai om moord te pleeg. Dit word natuurlik alles beheer deur die super-intelligensie of A.I. wat ons held, ‘n tegno-genie soos Elon Musk, geskep het, maar wat dan aan die internet gekoppel word.

Die probleem is: as jy sommer net na reekse kyk wat  niks van jou vereis nie soos Bridgerton of die dosyne jeugreekse wat daagliks oor ons TV-skerms in verskeie stadia van sespakke spoel, mag NEXT jou kop soos ‘n krabbel deurmekaar krap. Dit verg uiterste konsentrasie, en ná episode 1 het ek ‘n bietjie dom gevoel, maar kon, in ‘n mate, byhou. Dis intelligente techno-vermaak wat elektrisiteit deur jou breinselle sal stuur, maar nie noodwendig iets wat mens as ‘n vinnige tussenin-reeks kyk nie. NEXT boks met jou brein.