Old

Old

OLD deur M. Night Shyamalan, wat The Sixth Sense en Unbreakable gemaak het, dobbel met ouderdom, en maak jou bewus van jou eie ouderdom. Die storie is so vergesog, dit sal as ‘n politieke toespraak gebruik kan word. Dit sal mense net nie so opsweep nie, en hulle sal ook nie daarvoor val nie.

‘n Groep mense beland op ‘n strand en besef dat hulle op die sand binne minute verouder en nie kan ontsnap nie. Maar elkeen lei ook aan ‘n siekte. Wat maak hulle daar? En wie keer hulle daar vas?

OLD is selfs in fliekterme so vergesog soos ‘n tienerfantasie. Aanvanklik raak ‘n mens betrokke, want dit probeer Picnic at Hanging Rock naboots, maar uiteindelik, verseker die regisseur ons, weerspieël dit ons paranoia om in die Covid-pandemie vasgekeer te wees en vrees om siek te word. Maar dis ‘n flou  verskoning vir ‘n oppervlakkige fliek, gebaseer op ‘n strokiesreeks, waar goeie akteurs kraters van hulleself maak. Mens word oud terwyl jy vir die einde wag. OLD sit die pot só ver mis dat die inhoud op jou uitkeer.