OPEN WATER

Die week se beste fliek is OPEN WATER en is op die waarheid gegrond. Nou weet ek vir julle is die gevaar van ‘n haai omtrent so vergesog soos ‘n taxi in Gauteng wat padreëls gehoorsaam. Maar luister na die storie, en, dis ‘n ware verhaal!

‘n Paar jaar gelede het ‘n egpaar besluit om van ‘n plesierboot af te gaan duik. Agttien ander duikers is saam. Die boot het hulle na die diepsee geneem en hulle het gaan duik… En toe vertrek die boot en vergeet die egpaar daar! Die fliek gaan oor wat met die man en vrou gebeur het wat in die middel van die oseaan dae lank in die oop water ronddobber terwyl die haaie om hulle begin versamel.

Dis regtig baie ontstellend… OPEN WATER is nie gehoorvriendelik nie, dus moenie JAWS verwag waar die sterkgeboude held die haai op sy snoet slaan dat jy net sien tande spat nie. Hierdie is ‘n ware verhaal… en die angs is realisties. Ek was dol daaroor… maar dan HOU ek van gruwelware verhale wat hoë eise aan ‘n mens se uithouvermoë stel. OPEN WATER kry 8 uit 10. Glo my, jy het nog nie so iets sedert THE BLAIR WITCH PROJECT gesien nie.