PAPARAZZI

Die raarste van die flieks wat vandag begin draai, is PAPARAZZI. Die van julle wat die glansbladsye met skindernuus oor sterre lees sal weet… die rubrieke sou nie bestaan het as daar nie steelfotograwe was nie. PAPARAZZI gaan oor ‘n vleispaleis, gespeel deur Cole Hauser. Hy word bekend, maar dan jag die paparazzi hom en probeer sy loopbaan vernietig deur skandale op te grawe of steelfoto’s te neem Dit word dan buite verband geruk en stories word in vedraaide vorm in skinderkolomme gepubliseer word. Hy moet keer. Maar hoe?

Mel Gibson is een van die vervaardigers. En hy haat die paparazzi. Daarom is dit te verstane hoekom die fliek so witwarm van woede is en die fliek steelfotograwe as sulke absolute skuim uitbeeld. Daar is nie ‘n positiewe molekule in een van hierdie karakters nie. Dis uitsluitlik eksploitasie sonder ‘n ordentlike woord vir enige fotograaf. PAPARAZZI moes reguit video toe gegaan het. Dis ‘n simplistiese storie wat in verwronge gedaante vertel word. Ek sou dit vermy.