Parallel Mothers

Parallel Mothers

Die naam, Pedro Almodóvar, beteken dalk vir baie mense omtrent soveel as ‘n periodieke tabel, maar hy is een van die mees talentvolle, veelbesproke, moedswillige en tog deerniswekkende Spaanse regisseurs ooit, wat al meer pryse gewen het as wat jy tree op die strand gedurende die vakansie gegee het. En as jy probleme met subtitels het… eisj, dis regtig nie so erg nie.

In PARALLEL MOTHERS vertel Pedro, soos net hy kan, die storie van twee enkellopende ma’s wat op dieselfde oomblik geboorte aan twee babas skenk. Soos ‘n mens in ‘n Almodóvar-film gewoond is, is daar ‘n pynlike knoop in die storie-blinderderm. Alles verloop nie soos dit moes nie. Daar is tolhekke, soos op jou pad na ‘n vakansiebestemming, en jy betaal met emosie.

Meer kan mens nie hier verklap nie, behalwe om te sê dat moederskap en eerlikheid hier tot die uiterste getoets word, maar dat daar ook eise aan vriendskap gestel word.

Mense sê Gal Gadot (Superwoman) is die mooiste vrou op aarde, maar ek dink Penélope Cruz wen haar loshande. Hierdie Spaanse skoonheid met die swart hare en kom-saam-met-my-huis-toe-oë is die spil waarom PARALLEL MOTHERS draai, en enige ma sal hierdie verhaal aangrypend vind, en ril by die gedagte aan wat gebeur het. Maar uiteindelik gaan dit om die band tussen twee vroue in ‘n ongelooflike dilemma, en liefde vir mekaar se vrouwees.

PARALLEL MOHERS se storie is só slim, mens wens een van ons plaaslike draaiboekskrywers het dit uitgedink. Dis een van die beste films van die jaar.