Parasite

Parasite

PARASITE is die rolprentverrassing van die jaar, met ‘n kinkel wat g’n mens kan voorspel nie. Die het die topprys op die Cannes-rolprentfees verower, en het ‘n sensasie veroorsaak – nie net onder kritici nie, maar ook die publiek. Dit is ‘n swart komedie met humor so skerp soos ‘n Minora-lemmetjie, en lewer wrang sosiale kommentaar op die klasseverskille in Suid-Korea, en op slinksheid om te oorleef te alle koste.

‘n Arm gesin kry werk by ryk mense, maar neem die huishouding en huis soos parasiete oor. Daar wag egter ‘n groteske skok op hulle wat jy nie sal voorspel nie. Die fliek is uniek oorspronklik met ‘n storie wat jou telkens onverhoeds betrap. Die karakters het hulle eie geite en verrassende persoonlikhede wat jou die hande sal laat saamslaan.

PARASITE, in Koreaans met Engelse byskrifte, is verbluffend anders en uniek met wendings wat jou brein in ‘n tuimeldroër sal gooi. Dit word sterk aanbeveel as jy die krag van oorspronklike rolprente met ‘n baldadige unieke storie waardeer.