POLAR EXPRESS

‘n Fliek wat my weggevoer het na ander wêrelde, is THE POLAR EXPRESS. Baie interessante animasiefliek wat, nes GOODBYE LENIN op kunsgebied, anders is as die gewone kinderfliek. ‘n Seuntjie begin twyfel aan kersvader. Dan laai ‘n geheimsinnige trein met ‘n taamlike streng kondukteur wat nes Tom Hanks lyk, hom op en neem hom en ‘n klomp maatjies Noordpool toe om kersvader te ontmoet. Sy reis soontoe is ongelooflik kleurvol, skitter van opwinding maar ook van lewenslesse.

Wat die kondukteur die kinders probeer leer is: glo aan jouself, hê geloof in die goeie dinge van ‘n kind en waag ‘n kans as jy weet die uiteinde gaan goed wees. THE POLAR EXPRESS is egter hoegenaamd nie soos die briljante SHREK of THE INCREDIBLES wat oor 2 weke begin nie. Dis ‘n meer bedeesdae en amper volwasse fliek. Moet dus nie dink dis snaakse getekende mannetjies wat in skerp stemmetjies probeer snaaks wees nie. Dis ‘n amper ernstige kinderfliek.

Die kinders saam met my in die teater het vasgenael gesit en kyk – niemand het uitgestorm vir springmielies of die badkamer nie. Die tekeninge is so realisties, ‘n mens dink jy kyk na die werklikheid. Die rit op die trein is nie net vol komedie en wysneus-kwinkslae nie. Dit gaan baie dieper as dit. Weet dus as jy jou kind na THE POLAR EXPRESS vat, dis meer volwasse en stadiger as gewone animasieprente met baie meer lewens-lesse. Dis ‘n animasieprent met ‘n brein, ‘n boodskap én ‘n gewete wat 7 uit 10 kry, maar nié alle kinders sal daarvan hou nie, veral nie as hulle net opwindende pret en vermaak soek nie. Ek sou eerder sê ouers moet saamgaan om perspektief aan die storie te gee na die tyd. Mens kan nie net altyd vir kinders gemorskosflieks wys nie.