Prey

Prey

PREY gaan oor ‘n groep doodgewone manne (nes destyds in Deliverance) wat op ‘n natuurekspedisie gaan. Dis eintlik maar om vir mekaar te wys wie die mees manlikste is, en wie s’n is die grootste is. Ook dat hulle nie bang is vir die natuur nie. Die klomp ouens kuier en gesels en loop grootmeneer in die wildernis rond. Dan skielik, word een van hulle doodgeskiet. Aanvanklik kan hulle dit nie glo nie, maar wanneer die tweede koeël iemand verwond, besef hulle daar is ‘n sluipskutter wat hulle een na die ander uithaal. Wie is dit en hoekom? En daar is feitlik nêrens om weg te kruip nie.

Wat dit so ontstellend maak, is omdat die regisseur ons in die plek van die manne plaas. Met ander woorde ons koes ook vir die koeëls tot ons uitvind wie die sluipskutter is. Dan besef almal: hierdie een gaan taaier wees as gewoonlik.

PREY skeur jou senuwees aan flarde, want die manne is nogal ‘n aangename klompie vriende en daar is min wat mens irriteer. Hulle is ook nie grootbek bullebakke nie. Hulle gaan maar net vir ‘n uitstappie. Hoekom word hulle een na die ander afgemaai? Die antwoord sal jou onkant betrap.