Ratched (Reeks / Netflix)
Ratched (Reeks / Netflix)

Ratched (Reeks / Netflix)

Ons wag al maande lank vir hierdie sensasionele reeks. En Nurse Ratched, daardie gevreesde psigopatiese verpleegster wat langs Satan op sy stoel in die duiwelspaleis heers, (ook in One Flew Over the Cuckoo’s Nest), is nou in ons donkerste psige vrygelaat. Dié slag het die televisiemeester, Ryan Murphy, haar beetgekry, en het ‘n reeks ontwikkel oor die gruwelike obsessie met breinspoeling en wraak waarmee die brutale verpleegster met die klipgesig, haar ophou. Ek moet ernstig waarsku: vanaf episode 3 is sommige tonele erg masochisties wreed en skokkend.

RATCHED is briljant verfilm. Van die noukeurige herskepping van die jare veertig toe sy ‘n venynige heerskappy in ‘n gestig gevoer en dokters gemanipuleer het, tot die asemrowende kostuums wat sy dra, het Murphy ‘n hipnotiserende reeks geskep wat jou tegelyk mag betower en skok. Sarah Paulson is gemaak om die dol moordenares in Hansie en Grietjie se heks te omskep. Maar dis taai!

‘n Psigopaat met spiere waar ander mense vetrolle het, vermoor vier priesters. Nurse Ratched kry ‘n obsessie daarmee, en doen aansoek vir ‘n pos by die gestig waar hy aangehou word. Hoekom? Jy sal jou verwonder aan die lang gange en kliniese operasiesale van die hospitaal, lag vir die vyandskap met die nors Nurse Bucket, die giggelfees Judy Davis, en nie glo wat Ratched alles uit haar psigotiese kop ruk nie. RATCHED is ‘n TV-hoogtepunt, maar soms gaan die skepper van die reeks te ver met die geweld. Pas op!