Red Notice

Red Notice

Jy kan sommer aan die plakkaat sien RED NOTICE is ‘n skiet op James Bond. Elke paar sekondes gebeur iets buitensporig onmoontlik. G’n normale mens kan soveel gevatte kwinkslae in ‘n ry uitdink terwyl hulle op die rand van die dood staan nie. En ‘n mens kan net so maer, so beeldskoon, so aantreklik, of so macho wees voor dit eentonig raak.

RED NOTICE is pure spookasem vir die brein. Jy staar terloops daarna, want die jaagtogte, die sewe of wat lande waarin dit afspeel, die verbysterende oordrewe avonture en die reeks ontploffings is genoeg om twee ure van jou lus vir sjokolade te laat vergeet. Maar die fliek is so leeg soos jou bankrekening op 24 Januarie.

Tog word dit aanbeveel, maar alleenlik as jy bereid is om jou logika af te skakel en vrolik en inspanningloos na ‘n reeks absurde avonture te kyk wat enige verstand se skroewe losdraai. Dis glansryke vermaak wat jy vergeet voordat jy die slottitels rol.